As gevolg van my eie ondervinding waar ek as kind op 8 jarige ouderdom self deur die molestering van 'n pedofiel moes gaan, en gevolglike studies wat ek die afgelope paar jaar in hierdie verband gedoen het, interesseer die kommentaar en korrespondensie op die Internet en koerante rondom ds. Ozrovech my nogal heelwat. Ek moet bysê, waaroor ek later meer wil uitbrei, dat elke gemolesteerde oorlewende verskillend sal reageer op sy/haar molestasie en dit ook verskillend kan wees in verskillende stadiums van ʼn gemolesteerde se lewe.
Wat met my gebeur het is hier nie belangrik nie. Ek wil ook niks verder sê oor ds. Ozrovech of die klaers nie. Die kommentaar en korrespondensie op die Internet en koerante is egter van so ʼn aard dat die onkunde van 99% van die wat ʼn eiertjie of 10 te lê het, duidelik weerspieël word. Verhitte argumente en vrae wat voortdurend opgehaal word sluit in “Hoekom nou eers?”, “Daar is geen god nie, want indien wel sou dit nie gebeur het nie”, “Waarom nie die korrekte kanale jare gelede al gevolg nie?”, “Daar is maniere om hierdie soort van trauma te hanteer.”, maar die meeste van die argumente en kommentaar is gerig op haat teenoor of die klaers of die beskuldigde, en sommiges self teenoor God. Die onkunde wat betref seksuele molestering van seuns kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat hierdie realiteit vir jare toegesmeer was. Ander oorsake sluit in vergelykings met seksuele molestering van dogters en volwasse vrouens; die onkunde van wat seksuele molestering alles insluit; die feit dat ons in kerklike kringe sekere sondes soos homoseksualisme groter ag as bedrog, korrupsie, kwaadpratery, jaloesie, moord, en twis; die argument mans huil nie en mag nie emosie toon nie; mans mag nie hul gevoel uitspreek nie; ons patriargale samelewing, ens.. Die gevolge in die samelewing rondom die ds. Ozrovech debakel het op niks anders uitgeloop as kwaadpratery en veroordelings nie. Ek sou wat wou gee dat predikers dit sal raaksien en in hul preke hierdie liefdelose gedrag sal aanspreek. Die gevolge van seksuele molestering van seuns is fenomenaal – in baie gevalle juis as gevolg van onkunde en die stigma wat aan gevolge voorgehou word en gevolglike gebrek aan behandeling. Ons moet ook onthou dat gemolesteerde oorlewendes almal verskillend reageer op seksuele molestasie en dit kan ook verskil in verskillende stadiums van ʼn gemolesteerde se lewe. Molestering vind ook nie net plaas deur die manlike geslag nie, maar ook deur die vroulike geslag. Vanweë die gebrek aan spasie kan ek ook net kortliks van die gevolge noem – die leser moet dus ʼn bietjie sy/haar gedagtes laat gaan en dit oordink. Verlies van kinderjare, onskuld en kinderplesier. Dit sluit in verlies aan geheue en rasionele denke; verlies aan vertroue in die medemens (en in baie gevalle God); verlies aan gesonde sosiale omgang met seuns, meisies, volwassenes en selfs troeteldiere; verlies aan geleenthede om met maats te speel en te kommunikeer; verlies aan geleenthede om te leer – d.m.v. spel, kommunikasie, probleemhantering, ens.; verlies aan belangstelling om te studeer; verlies aan beheer oor die eie liggaam; ontwyking van en gevolglike verlies aan liefde in normale huislike omstandighede; verlies aan beskerming in normale huislike omstandighede; en nog baie ander. Normale kinderjare is uiters noodsaaklik om in redelike normale volwassenes te ontwikkel. In baie gevalle is dit dus nodig dat volwassenes hul kinderjare herbeleef om te besef wat met hul gebeur het en hul huidige omstandighede te verstaan. Selfbeeld. Wanneer die meeste gemolesteerde jong mans deur hul adolessensiejare na volwassenheid beweeg, is dit die selfbeeld wat seker die meeste skade gely het. Hiermee moet hy verhoudings aanknoop, werkstevredenheid bewerkstellig, huwelik aangaan, kinders versorg en grootmaak; studeer vir ʼn loopbaan, diaken en ouderlingspligte opneem (as hy dan nog kerk toe gaan) – dit alles terwyl die noodsaaklike voorkennis en ondervinding vanuit die jeugjare ontbreek. Ontkenning, vergeet, voorgee en distansiëring: Die meeste jong volwasse mans wil nie aan die trauma gebeure in hul kinderjare herinner word nie – daar is teveel onsekerhede, sommiges vrees selfs verdere molestering wat nie noodwendig seksueel van aard hoef te wees nie; noodsaaklikheid vir die daarstelling van ʼn veilige omgewing waarin die gemolesteerde vertroue kan ontwikkel en sy emosies vrye teuels kan gee . Sommiges sal dan eers op ʼn baie laat ouderdom – ja selfs in hul sestigerjare dit bekend maak en moontlik selfs op wyses wat vir sommiges in die samelewing nie aanvaarbaar sal wees nie. Isolasie en verhoudings: Sommige gemolesteerde oorlewendes wil vanweë die swak selfbeeld hulself wegsteek van die samelewing en vertoon introvert karaktertrekke, ander weer gaan hulself te buite in verhoudings deur of hulself vrye teuels te gee of hul medemens te mishandel of te molesteer – en die siklus begin dus weer van vooraf. Die grootste probleem derhalwe rondom die seksuele molestering van seuns is dus dat dit in stilswye plaasvind en vir baie jare daarna steeds stilgehou word. Vanuit die hoek van predikante en pastorale versorgers sou ons baie graag op ʼn vroeë stadium wou bewusgemaak word van die omstandighede. Ons sou dan daadwerklik kon optree en beide die molesteerder en die slagoffer/oorlewende behulpsaam kon wees met in die eerste plek God se liefde. Maar helaas, dit gebeur nie. Hier is ernstige besinning voor nodig. ʼn Predikant het in my kritieke jeugjare – die eerste 4-5 jaar na molestasie - onwetend my die pad deur sy voorbeeld gewys. Onwetend vir hom en myself het ek ʼn “idol” gehad. Ook ʼn onderwyser het in my gr 7 en 8 jare my nader getrek. Laastens maar nie die minste nie my skoonmoeder wat my die afgelope 32 jaar gewys het wat werklik liefde is. Mense wie die Here op my pad geplaas het, waarvoor ek ontsaglik dankbaar is – sonder hulle en my huidige studies in pastorale sorg sou ek steeds nog gesukkel het. ~deur Jan Lynzaad
3 Comments
|
Archives
February 2014
Categories |